Lees Matteus 19:16-22.
Toe die jongman dit hoor, het hy bedruk weggegaan, want hy het baie besittings gehad (v 22).
Ons weet nie hoe hierdie storie eindig nie. Het die ryk jongman toe later na Jesus toe teruggekom en by die Jesusvolgelinge aangesluit? Met die bewyse dat hy toe wel sy geld aan die armes uitgedeel het? Die kanse is nie goed nie. Ons lees immers niks daarvan nie; ons het bloot Jesus se uitspraak nadat Hy die man se bedruktheid gesien het: “Dit verseker Ek julle: ’n Ryk mens sal moeilik in die koninkryk van die hemel kom” (Matt 19:23).
Jesus maak dus ná hierdie gebeurtenis ’n wydlopende stelling wat, só sou dit aanstons blyk, sy dissipels hewig ontstel (Matt 19:25). Én vir ons. Want ons, óns wat hier lees en kerk toe gaan en elke dag brood-en-heelwat-meer op die tafel het, ons word ook hierdeur bedruk.
Want presies hoeveel is “baie besittings”? Hoe bereken Jesus “rykdom”?
Ons is nie seker nie. Ons almal is buitendien daarvan oortuig dat ons te min het. Ons wil nóg hê. Buitendien is “ ’n skat in die hemel” (v 21) te ver. Ek verkies my skatte naby my, binne my onmiddellike bereik.
Dit is presies dié waarheid, dink ek, wat Jesus wil oopvlek: Mense wat hul dae daaraan wy om nóg en nóg en nóg te versamel, het nie ’n plek in God se koninkryk nie. Hulle het in elk geval nie tyd daarvoor nie; hulle is voltyds in hul eie diens.
Dít is die ewige las van rykdom en die durende bedruktheid wat baie besittings bring. Dit baat ons dus nie om oor die jongman se toekoms te bespiegel nie. Dit is ons reaksie op Jesus se uitspraak wat ons moet ontstel.
Ek het sóveel, Here, dat ek dit regtig nie kan bereken nie. Bevry my van die las om dit aanhoudend te wil doen.
Barend Vos