Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Doen wat goed is

Lees Psalm 37:1-9.

Daarom moet jy in stilte op die Here vertrou en jou nie ontstel oor die voorspoedige lewe van ’n skelm nie. Moenie kwaad word nie (v 7-8).

Dit is darem maklik gesê. Daar is immers min dinge wat goeie, gewone mense so erg ontstel soos openlike skelmstreke, veral as die kansvatters boonop daarmee wegkom en op die oog af ál voorspoediger word.

Hoe word daar nie in elke land in die wêreld, ook ons s’n, op die tande gekners wanneer korrupsie nogmaals aan die kaak gestel word nie? En die fluitjieblaser wat dit ontbloot of die media wat dit berig, word verdag gemaak of van kwaadwilligheid beskuldig. Deurentyd kry jy die indruk dat die oortreders hulleself as onskuldig wil voordoen, as slagoffers van ’n bose sameswering – en dit maak jou nóg kwater.

Die psalmdigter se raad is eenvoudig: Hou op om jou oor sulke dinge te verknies, veral as jy niks daaraan kan doen nie. Jy gaan niks regkry deur daaroor te skel nie. Hier is die beste uitweg: “Doen wat goed is, woon en werk rustig voort” (v 3).

In ons tyd en taal beteken dit ongeveer dieselfde: Daar is boosheid in hierdie lewe en hierdie land én in jou omgewing. Moenie doen wat daardie ellendelinge doen nie. Moet jou nie daarby laat intrek nie. God is jou Voorsiener en Versorger.

Daardie mense se leefwyse verdien nie ’n tweede kyk nie. Lê jou toe op positiewe gesprekke en opbouende optrede. Ban hulle en hul doen en late uit jou gedagtes, sodat jy met gespitste ore kan luister as die Here jou eenkant toe roep met ’n spesifieke opdrag.

Kortweg: Soek na wat goed is vir God en jou naaste, en doen dit dan.

Wys my, Here, waar ek ’n verskil kan maak. En waar nié. Maak my dan gehoorsaam.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.