Lees Openbaring 2:12-29.
Julle het mense daar wat die leer van Bileam aanhang … ook mense wat die leer van die Nikolaïete aanhang (v 14-15).
Hoeveel lidmate sou die gemeente in Pergamum gehad het? Die geleerdes vertel ons dat dit ’n groot stad aan die weskus van die Romeinse provinsie Asië was. Dat daar verskeie indrukwekkende geboue was en dat die stad later een van die belangrikste sentra in die Romeinse Ryk geword het.
Die stad word in die Openbaringboek wel ook aangedui as die plek “waar die troon van die Satan is” (v 13). Nie ’n onbevlekte metropolis nie …
Daar was ’n gemeente, maar hoeveel Christene daar aanbid het, weet nugter. Feit is, in daardie einste gemeente was daar minstens twee teologiese stromings wat van die norm afgewyk het. Reg gelees: In die gemeente van Christus wat moes kerk wees in ’n groot kosmopolitiese stad, was daar allerlei interne struwelings. In plaas van sendingwerk by hul voordeur doen, bedryf hulle ’n verskeidenheid dwaalleringe. Nee, ons weet vandag ook nie wat die Nikolaïetesekte geleer of presies wat die Bileam-aanhangers geglo het nie; ons weet wel dat hulle hul oortuigings uitgeleef het. En dat dit ’n gruwel in die Hoof van die kerk se oë was.
Daar is mos niks nuuts in hierdie storie nie. Enige lidmaat van enige kerk of gemeente is terdeë bewus van die onderstromings in eie geledere. Hoe mense wat aan Christus behoort hulle teenoor mekaar (en dus teenoor Hom) gedra. Hoeveel tyd en krag en geld wat vir hul Christelike opdrag en plig buite die gemeente nodig is, “binnenshuis” bestee word. Hoe die plaaslike, persoonlike oorloggies met drif gevoer word. En hoe dit waarop dit werklik in ’n gemeente van Christus aankom, volledig in die slag bly.
Ons is u kerk, Here – en ons dien onsself. Maak ons anders, asseblief!
Barend Vos