Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

’n Soldatelewe

Lees 2 Timoteus 2:1-7.

’n Soldaat in aktiewe diens wat sy bevelvoerder tevrede wil stel, bemoei hom nie met die dinge van die gewone lewe nie (v 4).

Paulus is steeds besig om die jong Timoteus te onderrig en hom moed in te praat. Hy vertel hom dat spesiale omstandighede vir Jesus se soldate geld, en hy noem minstens twee: Hulle het dit nie maklik nie – Paulus praat selfs van “ontberings” (v 3). Én hulle bemoei hulle nie met alledaagshede nie.

Waarskynlik het dié twee ’n noue verband met mekaar. Mense wat hulle ter wille van die “saak” van allerlei dinge weerhou, voel dalk – tereg – dat hulle groot opofferings maak. As jy nie “die dinge van die gewone lewe” doen of bespreek of beplan nie, beteken dit straks ’n lewe wat nougeset gewy word aan die taak wat jou opgelê is. En Paulus se trooswoord hieroor? “Die Here sal jou insig gee om alles te verstaan” (v 7). Jy sal dus met verloop van tyd gehelp word om die doel van hierdie toegespitste bestaan, die reëls vir die atleet vir Christus (v 5), volledig te begryp.

Lesers van die ander Paulusbriewe sal dalk reeds ’n aanduiding hiervan hê. Kyk na Romeine 12:9-21 se reëls, wat begin met: “Die liefde moet opreg wees.” En Galasiërs 5:22-23 s’n, wat bloot uit nege woorde bestaan.

Timoteus, “goeie soldaat van Christus Jesus” (v 3), kan gerus ook kennis neem van sy leermeester se waarskuwing in 1 Korintiërs 13:3 wat onder meer só lui: “… al gee ek my liggaam prys … maar ek het geen liefde nie, baat dit my niks.”

So lyk dit dus, Timoteus. Jesus se soldate dra nie medaljes nie; hulle doen wel soms wonde op.

Gaan voor my uit, Here. En troos my wanneer die ontberings my seermaak.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.