Lees Numeri 12:1-15.
Mirjam en Aäron het vir Moses aangespreek oor die Kussitiese vrou wat hy gevat het … “Het die Here dan net deur Moses gepraat,” wou hulle ook nog weet, “en nie ook deur ons nie?” Die Here het dit gehoor (v 1-2).
Hier is een van die gebeurtenisse in die Mosesverhaal wat ons, ywerige Bybellesers, se aandag dikwels ontglip. Ons onthou Mirjam onder meer as die slim ouer sussie wat vir Moses in die biesiemandjie tussen die riete oppas (Eks 2:3-5). En Aäron as sy broer se regterhand, deur die Here self aangewys (Eks 4:14-16), wanneer daar met die farao onderhandel moet word.
Miskien het hulle gedink dat dié heldedade ’n bietjie meer erkenning verdien. Wie is Moses dat hy met God se stem praat? En sien die mense dan nie watter soort vrou hy vir hom gevat het nie? Die mense het dit sekerlik gesien – die Kussiete lyk tog opvallend anders as die Israeliete (Jer 13:23). Maar wat regtig saak maak, is dat die Here hierdie broer en suster gehoor het. En dit was vir Hom sleg.
Só sleg dat Hy hulle van aangesig tot aangesig gekonfronteer het (v 5), dat Hy Moses verdedig. Dat Hy so kwaad word dat Mirjam sy woede aan haar lyf voel. Dat Moses vir haar in die bres tree en om genade moet smeek.
Ja, dit is inderdaad ’n vreemde kinkel in dié familie se verhaal. Ken ons dit nie alte goed in ons eie familie nie? Broers en susters wat mekaar oordeel en veroordeel. Wat jaloers is op mekaar. Wat hul mond nie van mekaar se keuses kan afhou nie.
Ja, ons ken hierdie soort storie. Ons moet ook weet dat die Here die giftige woorde hoor wat ons so maklik kwytraak.
Here, as U my wys om my seëninge te tel, leer my dieselfde met my woorde.
Barend Vos