Lees Handelinge 26:24-29.
Agrippa sê toe vir Paulus: “Jy dink seker jy kan my sommer gou-gou ’n Christen maak” (v 28).
Paulus is besig om homself voor koning Agrippa en goewerneur Festus te verdedig. Hy vertel hulle alles: van sy jeugjare, sy bekering op die Damaskuspad en van al sy reise as God se sendeling.
Maar terwyl Paulus nog staan en praat, skreeu die goewerneur: “Jy’s mal, Paulus!” (v 24).
Paulus skud net sy kop en sê: Nee, ek vertel bloot wat gebeur het. Dit is nie asof dit vir die koning nuus is nie. Alles het hier in sy eie land begin. Of hoe, koning Agrippa?
Dalk het Agrippa toe geskrik. Nou word daar van hóm rekenskap geëis: Antwoord die vraag, Agrippa! Glo jy die destydse profete en wat hulle oor Jesus gesê het? (v 27).
Agrippa gooi wal: Ek word nie sommer oorgehaal om te glo nie! En daarmee verwoord hy baie skeptici deur die eeue se gevoel: Dit sal meer as ’n goeie argument kos om my te oortuig om in jou Jesus te glo …
Ons weet nie of hy uiteindelik tog geswig het voor Paulus se aandrang nie. Ons weet wel dat geen mens se woorde of optrede ’n ander kan oortuig om in Christus te glo nie. Dít vereis ’n groter Stem, dit vra ’n hoër Hand. Juis Paulus sal dit weet, hy wat op die Damaskuspad daardie Stem gehoor en daardie Hand gevoel het – soos hy dit so pas aan Agrippa en Festus oorgedra het.
Daarom dat hy bloot die storie vertel. Want om oral en teenoor almal oor God se goedheid te getuig, is ons voorreg. Om iemand anders tot geloof te beweeg, is egter die Heilige Gees se werk.
Ek het sóveel om te vertel, Here! Help my om dit getrou te doen.
Barend Vos