Lees Handelinge 17:22-34.
“Terwyl ek deur julle stad geloop en kyk het na die plekke waar julle aanbid, het ek ook ’n altaar gekry waarop geskrywe staan: ‘Aan ’n onbekende god’” (v 23).
Paulus is in die wêreldstad Atene, en hy wag dat twee medesendelinge by hom moet aansluit. Intussen verken hy die stad. Hy sien met verontwaardiging hoeveel afgodsbeelde daar is; hy knoop filosofiese gesprekke met verskillende verbygangers aan.
Ook verkondig hy die evangelie – wat nie in almal se smaak val nie (Hand 17:16-18). So word hy na die Areopagus geneem, ’n soort hooggeregshof, waar hy moet verduidelik. Daar “verduidelik” Paulus soos net hy kan. Dit word niks minder nie as ’n preek.
’n Uitstekende een daarby. Want die aanknopingspunt kom uit hierdie stad met die oorvloed afgodsbeelde, die altare vir al wat ’n god is. Hy sê hy het selfs ’n altaar gekry wat aan ’n onbekende god gewy is (v 23).
Dit is hierdie een, sê hy triomfantelik, hiérdie Een, wat ek aan julle kom verkondig! “Hý is die Here van hemel en aarde, en Hy woon nie in tempels wat deur mense gemaak is nie” (v 24). Julle ken Hom nie, maar Hy ken julle – “dit is Hy wat aan almal lewe en asem en alles gee” (v 25).
Sommige van sy toehoorders lag hom uit. Ander sê hulle sal graag meer wil hoor.
Só gaan dit maar met Jesusnavolgers: Hulle word soms na hul geloof gevra, en dan verduidelik hulle so goed hulle kan. Hulle beskou dit as ’n voorreg en ’n uitdaging om dit so verstaanbaar en aktueel moontlik te doen. Wat hul toehoorders daarmee maak, is hul eie saak. Én dit is die saak van die God wat alte goed met hulle en hul eienaardighede bekend is.
Dankie, Here, vir die genade dat ek U mag ken. Én mag weet hoe goed U my ken.
Barend Vos