Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Dwaasheid

Lees 2 Timoteus 2:14-26.

Moet jou nie met dwase en sinlose strydvrae inlaat nie, want jy weet tog dat dit net rusies veroorsaak (v 23).

Watter eersteklasraad aan ’n jong mens, en daarby ’n jong dominee. Want as daar een ding is wat groot onmin in ’n gemeente of tussen Jesusvolgelinge saai, is dit ’n stryery wat nie in hul geledere hoort nie.

In Paulus-hulle se tyd was die rusies waarskynlik oor dinge soos wat geëet en gedrink mag word. Paulus word dan ook genoop om uit te roep: “Die koninkryk van God is nie ’n saak van eet en drink nie, maar van gehoorsaamheid aan God, vrede en vreugde …” (Rom 14:17). Dit is maklik om hier te bespeur wat sinloos en dwaas is, nie waar nie?

Maar wanneer jy dit aan eie lyf begin voel, vervaag die grense. Dan word alle vrae wat op jou betrekking het, met dodelike erns bejeën en aan die grootste moontlike klok gehang. Dán heet die dwases en die sinloses “al die ander”. Ons is immers nooit vurig oortuig van ’n saak en sy meriete as dit nie “ons” saak is nie.

Die ellende is dat sulke dinge die fokus wegneem van dit waarop dit werklik aankom (Fil 1:9-10). Méér: Dit ontbloot die Here se dienaars as mense wat alles is behalwe wat hulle moet wees. Hulle moet vriendelik teenoor almal wees, bekwaam wees om ander te leer, mense wat onreg kan verdra (v 24).

Waarom verras dit ons dan as buitestanders hul kop skud as jy die woord “kerk” voor hulle noem? As nuwelinge belangstelling verloor wanneer hulle agter die kap van ons gemeentebyl kom?

Paulus het reg: Die gedurige gekibbel oor nietighede is dwaasheid sonder weerga. Hoe gouer die Hoof van die kerk ons daarvan verlos, hoe beter.

Ek is ook “kerk”, Here … Die dwaasheid is ook myne. Bevry ons tog!

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.