Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Siekes

Lees Markus 10:46-52.

Toe hy hoor dat dit Jesus van Nasaret is, het hy begin uitroep: “Jesus, Seun van Dawid, ontferm U tog oor my!” (v 47).

Dié verhaal is oorbekend. Dit is een van vele soortgelykes wat tydens Jesus se omwandelinge afspeel: Hy is op pad; iemand wat in die nood is, roep dringend na Hom; die dissipels of die omstanders maak die roeper stil; Jesus gaan staan stil by die persoon; laasgenoemde ontvang waarvoor hy of sy gevra het; Jesus het die laaste woord. In dié geval is sy woorde, soos in van die ander: “Jou geloof het jou gered” (v 52).

In feitlik al hierdie verhale is ernstige siekte en genesings ter sprake. Dit is dus geen verrassing nie dat die groot Geneesheer telkens die hoofrol speel. Die feit dat Hy by die nooddruftige gaan stilstaan en soms ook letterlik uit sy pad gaan om dié mens aan te hoor en te help, het al ’n belangrike deel van alle Jesusvolgelinge se vertroosting geword.

Wat lesers egter steeds onthuts, is die omstanders – en dit sluit dikwels die dissipels in – se ongeduld met die roeper en dié se nood. Soms wys hulle dié arme mens tereg en sê hy of sy moet stilbly. En soms is hulle selfs ongeduldig met die Een wat Hom gereed maak om Hom te ontferm (Mark 5:31).

Sulke mense, weet ons nou, is die éintlike siekes. Hulle wil nie sien nie en hul hart is nie daartoe in staat om sag te word nie. Hulle hoor ook nie. Telkens as Jesus die sieke uiteindelik wegstuur, sê Hy iets oor daardie mens se geloof. Wat groot is. So groot dat dit red.

Sy raserige volgelinge hoor Hom nie. Hul ingenomenheid met hulleself, daardie slegte siekte, het ook al berug geword.

Maak my gesond, Here! Genees my van my selfgesentreerdheid. Gee my ’n nuwe hart, asseblief.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.