Lees Genesis 32:22-31.
Jakob het mank gebly aan sy heup (v 31).
Dié verhaal is sekerlik een van die bekendstes in die Ou Testament en is om verskeie redes betekenisvol. Een hiervan is dat Jakob deur die nag met ’n man gestoei en toe van naam verander het. Sy teenstander het hom mos ná die geveg “Israel” gedoop, wat verwys na iemand wat met God baklei het.
Asof hierdie gebeure nie dramaties genoeg was nie, sou Jakob die res van sy lewe met die herinnering aan dié stoeiery in sy lyf loop, oftewel hink. Hy sou ook weet hoekom sy teenstander hom nie wou laat uitken nie. “Waarom vra jy my naam?” vra die man. En Jakob sou goed verstaan: “Ek het God van aangesig tot aangesig gesien …” (v 29-30).
Dié gebeure het gevolge gehad vir die plek by die Jabbokdrif, wat voortaan Pniël sou heet. Én vir die Israeliete se eetgewoontes wat nou ’n deel van die heup sou uitsluit.
Maar die belangrikste, die heel belangrikste van hierdie verhaal, is die troos wat dit bied aan mense wat met God worstel. Hier hoor hulle dat hul stryd nie vir Hom vreemd is nie. Hulle verneem dat Hy steeds die God is wat seën, wat aanhou om met sy kinders te praat. Dat Hy hulle nie in die hitte van die stryd laat los nie, al is die stryd met Hom.
Helaas weet hulle ook, hierdie Godworstelaars, dat hulle die littekens wat dié geveg op hulle gelaat het met hulle sal saamdra, dalk selfs die res van hul lewe. Dit is goed so, want gelowiges moet bewus bly van die Goddelike vingerafdrukke op hul lewe. Dit herinner hulle, maklikvergeters, aan wie hulle behoort.
Kan ek vra, liewe Heer, dat U tog saggies aan my sal vat? Moet my net nooit los nie, asseblief!
Barend Vos