Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Hou jou mond!

Lees Psalm 57.

Ek is hier tussen leeus, tussen mense wat my wil verskeur. Hulle tande is spiese en pyle, hulle tonge is skerp swaarde (v 5).

Vrees is, nou ja, ’n vreeslike ding. Soms bekruip dit jou van agter, soms bestorm dit jou reg van voor. Áltyd bedreig dit jou.

Daar is allerlei boererate om vrees op ’n afstand te hou: sing in die donker, fluit in die kerkhof, bestraf in die geloof. Maar wanneer jy jou kom kry, het die vrees jou reeds in sy kake beet. Dreig dit om jou te verslind. Wil dit jou op geen manier laat los nie.

Dit is interessant dat dié psalmdigter beeldspraak soos “verskeur”, “tande” en “tonge” gebruik. Dit is so asof hy ons wil herinner aan die vreesaanjaende eienskappe wat daar in ’n mens se mond geleë is. Hoe jy mense met jou mond kan kou en uitspuug. Sou hy dus ook, soos die Jakobusbrief baie eeue later (Jak 3:1-12), ons wil waarsku teen die vernietigingskrag van woorde? Aan wat hap en byt aan jou kan doen? Én aan jou medemens van wie jy nie jou mond kan afhou nie?

Hoe ook al: Dit blyk uit hierdie psalm dat daar maar een toevlug is wanneer dié wreedaardigheid jou weerloos laat. Dat die digter slegs een verwagting het: “God sal antwoord in sy liefde en trou” (v 4). En dat hy daarom veilig voel by Hom. God se antwoord is vir hom genoeg.

Hy hoef dus nie terug te skel nie. Hy hoef nie sy slagtande te ontbloot om hom te verdedig nie. Hy kan sy mond hou, en dit eerder gebruik om God te loof, om sy lof te besing (v 10).

U het my ’n mond gegee om te seën, te loof. Om ’n sprekende voorbeeld van God se ontferming te wees. Dankie, Here!

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.