Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Vry-sê

Lees Jakobus 5:7-20.

Moenie oor mekaar kla nie, broers, sodat julle nie veroordeel word nie. Die Regter staan al voor die deur (v 9).

In hierdie laaste hoofstuk van dié brief met sy besonder skerp uitsprake, is dit asof Jakobus ’n rustiger, meer versoenende toon aanslaan. Hy praat dan ook met sy lesers oor die waarde van geduld, hy vra hulle om moed te hou en te volhard. Hy sê hulle moet tog nie ophou bid nie.

En hulle moet asseblief verdraagsaam teenoor mekaar wees. Hy sê hulle moenie oor mekaar kla nie, want só mors hulle onder meer ook kosbare tyd. Die enigste Een wat mag oordeel, staan voor die deur. Ja, sy koms is naby. En, ja, die oordeel behoort net aan Hom. Sou Jakobus geweet het van werklike situasies waar mense, gelowige mense wat sy brief lees, oor mekaar gekla het? Dinge gesê het wat hul ongeduld en ontevredenheid met medegelowiges verklap het? Wel, dan kan ons mos lustig saampraat. Want ook ons kan dikwels nie ons woede en frustrasies oor ander verswyg nie. Hul optrede (of gebrek daaraan) noop ons om steen en been oor hulle te kla.

Daarby was ons ook al dikwels aan die ontvangkant van mense wat hul onvrede met óns luidkeels verkondig het. Dan moes ons op straat en selfs in die kerk hoor hoe sleg ons is en hoe betreurenswaardig ons optrede (of die gebrek daaraan) was.

Jakobus se sagte oproep hier om tog nie oor mekaar te kla nie, rym volledig met sy veel krasser oordeel vroeër oor die vernietigingsmoontlikhede wat die tong sy gebruiker bied (Jak 3:1-12). En ons moet dit ter harte neem. Hoe kan ons met dieselfde mond God loof én ons medegelowiges beskinder en beswadder? Hoe werk bid en skel uit een mond?

Bewaar my, Here, teen klakouse. En bewaar hulle teen my vry-sê oor hulle.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.