Lees Lukas 22:39-46.
“Vader, as U wil, neem tog hierdie lydensbeker van My af weg” (v 42).
Dit is een van die mees sensitiewe sake waaroor gelowiges dikwels wroeg, dié oor God se wil. Gelowiges word opgeroep om God se wil te soek. Jesus leer ons om te bid dat God se wil sal geskied (Matt 6:10).
Daar is ook gelowiges wat gereeld daaroor praat. Daar is dié wat hulle heel kontant uitspreek oor wat en hoe God se wil sou wees, so asof hulle eerstehandse kennis daarvan het.
Dan is daar dié wat soms voel dat hulle aan die verkeerde kant van God se wil is, veral wanneer seerkry, lyding en dood oor hul pad kom. Én wanneer genoemde “Godkenners” hulle dan ewe ingelig vermaan om liefs te berus, want “dit was God se wil”.
Maar dit is wanneer ’n Bybelleser hierdie bekende Getsemaneverhaal met aandag lees dat jy besef hoe goedkoop sulke God-se-wil-praatjies is. Hoe maklik dit is om te klets oor dinge waarvan jy niks verstaan nie en in elk geval nie oor rekenskap hoef te gee nie.
Ja, as jy niks weet van sweet wat “soos bloeddruppels” (v 44) word nie, moet jy liefs stilbly. Dit is nie ’n leunstoelgesprek nie en nie ’n katederlesing nie. Dit is ’n onderwerp wat allermins aan veilige, afstandelike, noukeurig beredeneerde kanselkommentaar onderwerp moet word.
Die vraag na God se wil is niks minder nie as ’n kreet. En dit kom uit die bloeiende hart van mense wat bitter lyding verduur.
Wanneer jy dus in die versoeking kom om jou hieroor uit te spreek, liewe gelowige – bly eerder tjoepstil. Luister na daardie smartlike kreet, luister klaar. Sit dan sonder ’n woord jou arms om jou huilende medemens se skouers.
Here, u wil in smartlike tye bly ’n misterie. U onverganklike liefde is my ewige troos.
Barend Vos