Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Bly ver weg!

Lees 2 Timoteus 3:1-9.

Hulle sal nog die uiterlike skyn van die godsdiens hê, maar die krag van die godsdiens sal hulle nie ken nie. Bly weg van sulke mense af (v 5).

Dit was ander tye daardie: Die destydse gelowiges was daarvan oortuig dat Jesus se weerkoms om die draai is, en die ergerlike gedrag van die mense in hul omgewing het hierdie oortuiging versterk. Dalk het hulle ook, soos Johannes op Patmos, meermale uitgeroep: “Kom, Here Jesus!” (Op 22:20).

Paulus troos hulle met ’n verwysing na die verre verlede: die Egiptiese farao se goëlaars wat met hul towerkunsies Moses se magsvertoon in die wiele probeer ry het (Eks 7:11; 8:7). Hy vertel hoe hulle in ’n strik beland het en ontmasker is vir wie hulle is.

Troos julle daaraan, sê Paulus, hierdie mense wie se gedrag julle so ontstel, “sal nie ver kom nie, omdat hulle dwaasheid vir almal duidelik sal wees” (v 9), net soos dit destyds die geval was.

Grondige troos, ja. Maar dit is eers eendag. Wat van nou? Nou terwyl almal nog met hulle moet saamleef? Hoe maak ons met hulle? Hoe maak ons met onsself?

Paulus se raad is eenvoudig: Bly weg van hulle af. Vermy hulle. Want hul woorde en hul dade is kragtig (“beledigend”; “wreed”; “roekeloos” – v 2-4) en daarom intimiderend. Netnou word julle saamgesleep op hierdie pad.

Die aantreklike moontlikhede van geldgierigheid en grootpraterigheid (v 2) verlei julle dalk om ook só te word. Beskerm julleself dus teen die lokkrag van ’n maklike skyngodsdiens deur ’n wye draai om daardie mense te loop. Nie omdat julle beter as hulle is nie; bloot omdat julle dalk swakker as hulle is. Omdat hulle dalk makliker as wat jy dink ook vir jou ’n strik sal stel.

Bewaar my, Here, van ’n oorskatting van my eie krag. Wys my u krag.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.