Lees Jeremia 14:1-6.
Wildedonkies staan op die kaal heuwels en snuif die wind net soos jakkalse; hulle oë raak dof, want daar is nie meer gras nie (v 6).
Hartverskeurend. Dit is hoe die prentjies lyk wat hier vir ons geteken word.
Ongelukkig is dié prentjies in die destydse leefwêreld van God se volk vir ons hier in die verre Suiderlande alte bekend. Die poëtiese skoonheid van hierdie sestal verse kan nie opweeg teen die ellendige waarheid waaroor dit destyds berig het en wat soveel van ons droogtejaar ná droogtejaar aan eie lyf voel nie. Wat ons seisoen ná seisoen met ons eie oë aanskou.
Maar mooi is nou eenmaal mooi – en hierdie woordprentjies in Jeremia 14 is beeldskoon in sy dorre strakheid. Hoor dan: “Hulle bring hulle kruike leeg terug. Hulle is verslae en verleë, hulle koppe hang” (v 3). “Die takbok lam in die veld en gooi haar lam weg omdat daar nie gras is nie” (v 5).
Duisende jare gelede, en tot vandag toe …
Waar kom sulke uitmergelende droogtes vandaan? Het klimaatsverandering dan destyds reeds sy tande gewys? Of, soos sommige dit wil hê, was God tóé al so kwaad vir sy mense dat Hy die reën van hulle weerhou het? Kortom, wie moet ons glo: die weerprofete, die doemprofete, die profete wat beweer dat hulle in God se Naam en op sy gesag profeteer?
Miskien moet droogtes en ander natuurrampe ons eerder stilmaak. Stil genoeg sodat ons ons medemens en hul diere se hulpgeroep kan hoor. Sodat ons gou kan help, sonder allerlei predikasies en ander slimstories wat ons ore besoedel en ons deernis kaap.
En wanneer ons stil genoeg is, sal ons dalk ook God se stem hoor. Sy antwoord op dié desperate vraag: Wat wil U vir ons in swaarkrytye sê, Here?
En wat wil U hê moet ek doen, Here?
Barend Vos