Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Die tuiste

Lees Psalm 84:1-7.

Selfs ’n mossie het ’n nes en ’n swaeltjie ’n plek vir haar kleintjies daar by u altare, Here … Dit gaan goed met mense vir wie u huis ’n tuiste is (v 4-5).

Die voëls van die hemel en die mense van die aarde. Almal is tuis in die Here se huis. Só sê hierdie psalmdigter.

Hoewel dié psalm in die tyd van tempels en sinagoges geskryf is, hoor ons dit vandag steeds in ons kerk: die trippeltrap van voëltjievoete op die kerk se plafon, die koergeluid van duiwe op of binne die dak. O, en die onwelkome en dikwels onwelriekende getuienis van hul teenwoordigheid. Laasgenoemde dikwels op die kerkraad se kosbare plaveisel …

Ek wonder soms of die hoorbare en sigbare teenwoordigheid van die veervolk vir die ou priesterhoofde en tempelbestuurders en sinagogebase ook so ’n ergernis was soos dit klaarblyklik vir hedendaagse kosters en leierouderlinge is. Het hulle ook vergadering op vergadering gehou oor “die probleem van die voëls wat by die kerk nes maak”? Het hulle ook oplossings voorgestel wat wapengeweld en gif insluit?

Ek hoop nie so nie. Want as dit van altyd af so was dat die hemel se voëls ’n blyplek in die Godshuis gegun is, dan ontneem dit ons, die moderne kerkgangers, die alibi om tot elke prys van daardie klein skepseltjies ontslae te raak.

Dan blý hulle na aan ons, sodat ons hulle gereeld kan hoor en sien. Sodat ons herinner kan word aan Jesus se troos wanneer ons bekommerd is. Hoe Hy gesê het: “Kyk na die wilde voëls … julle hemelse Vader sorg vir hulle” (Matt 6:26).

Hoeveel te meer sorg Hy nie vir ons nie, ons wat ook by sy altare ’n tuiste gevind het?

Here, dankie dat ook ek die kerk “my tuiste” kan noem. Daar beleef ek u sorg.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.