Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Kerkmense se probleem

Lees 1 Petrus 4:12-19.

Die tyd vir die oordeel het aangebreek; dit begin by die huis van God (v 17).

Dit is een van daardie ongemaklike verse in die Bybel, een waarmee baie kerkmense dikwels gedreig word. Só: Moenie dink jul kerktoeganery gaan julle enigiets in die sak bring nie. Inteendeel, die kerk is juis die plek waar God se oordeel begin!

Dit is natuurlik waar. Nie net skryf Petrus dit hier helder en duidelik nie; ons weet dit tog van lankal af: Kerkbywoning bied geen paspoort na saligheid nie. Daar word nie vrywaringsvorms in die kerk uitgedeel wat kerkgangers aan die oordeel laat ontkom nie.

En, ja, dit maak ons ongemaklik. Ons is immers die kerkmense wat in die voorste linie is wanneer die oordeel kom. Dit is ons wat sal moet rekenskap gee van ons doen en late in Christus se kerk.

Hopelik help hierdie eeue oue teksvers mense soos ons om twee maal te dink voordat ons dinge doen of sê of beplan. Ja, dalk herinner dié Petrusvermaning ons daaraan om ons woorde én ons seëninge te tel. Om ons sewentig-maal-sewe-somme opnuut te bereken. Dit bly ’n feit dat die rentmeesters van God se huis, daar waar die oordeel sal begin, ook hul eie huis in orde moet kry.

Kerkgangers het dit nie aldag maklik nie. Hulle ontvang wel dié deurlopende boodskap: Die oordeel wat van God af kom, word deur Christus se lyding gekwalifiseer. Die Beoordelaar kyk na ons deur die bril van sy Seun, die gekruisigde en opgestane Here.

En dit het tot gevolg dat God se sondaarkinders op die oordeelsdag sal deel in die heerlikheid van die Seun. Dat daardie aardskuddende geleentheid uiteindelik ’n dag word wat “oorloop van vreugde” (v 13).

As U weer kom, kom haal U u huismense om by U te gaan woon. Vir altyd!

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.