Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Ons Jesus

Lees Matteus 21:28-32.

“Tollenaars en prostitute gaan eerder as julle in die koninkryk van God in” (v 31).

Dit is geen wonder die Joodse godsdienstige elite wou van Jesus ontslae raak nie! Hy het eenvoudig geen goeie woord vir hulle nie – en daardie vergelykings met hoere en die ander minderwaardige skepsels darem …

Eers vertel Hy hulle ’n gelykenis, een van daardie koninkrykstories waarmee Hy verklap hoe sy Vader oor mense dink. En soos dikwels die geval is, is dit ’n eenvoudige storie, een waarin die “les” voor die hand liggend is. So maklik verstaanbaar dat toe Jesus aan die godsdienstiges ’n vraag vra om te kyk of hulle opgelet het, hulle dit baie gou korrek kon beantwoord.

So hang hulle hulleself op. Want net toe kom dié uitspraak: “Dit verseker Ek julle: Tollenaars en prostitute gaan eerder as julle in die koninkryk van God in” (v 31).

Hedendaagse Bybellesers verlekker hulle in sulke Jesusuitsprake. Ons sal dikwels dink: Nou het Hy julle darem goed op jul plek gesit – krý vir julle! Ons vergeet dat ook ons as “godsdienstiges” bekend staan en beslis só oor onsself dink. Dat ons vol bedenkings en besware is oor prostitusie en oneerlike belastinggaarders. Dat ons baie verlig is dat diesulkes darem nie by óns kerk opdaag nie. Dit is erg genoeg dat hulle ons staatsdienskantore vol sit en op die straathoeke in ons omgewing rondhang.

Die probleem is dat daardie mense dikwels ook ons Jesus se aandag opeis, en dit maklik kry. Makliker as wat ons dit sou wou hê. Ag, en dan is Hy boonop so “eie” met hulle! So akkommoderend, so vol ontferming, so vol … kan dit liefde wees?

Nee, dit kán tog nie! Nie vir húlle nie! Nie Hý nie …

Here Jesus, hoe gans anders dink U as ons! Oor mense, ook oor mense soos ek.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.