Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Laat los dit!

Lees Psalm 32:1-7.

Toe ek oor my sonde geswyg het, het my liggaam uitgeteer (v 3).

Godsdiens is ’n gevaarlike besigheid. Veral vir diegene wat dit ernstig opneem. Dan het dit implikasies wat veel wyer strek as wat sulke godsdienstiges sou vermoed.

As jy een van hulle is, moet jy oplet: Jou liggaam, byvoorbeeld, is ’n akkurate barometer van hoe dit met jou gees gaan. Jy voel sleg wanneer dit sleg gaan met die verhouding tussen jou en God. Jy ken die lusteloosheid, die knaende onrustigheid, die moegheid wanneer jy ophou bid. Wanneer jy ophou kerk toe gaan en wanneer gedagtes oor God jou bangmaak.

Ja, skuldgevoelens laat merke op jou siel én jou lyf. Ons verstaan hierdie psalmdigter s’n, en wat hy aan sy eie liggaam waarneem. Die gebrek aan krag, die verlies aan vreugde. Die daaglikse bewuswees van iets wat lelik skort.

Wat is daar te doen? Ignoreer alles, ontken alles, vergeet alles? Diegene wat dit al probeer het, sal jou sê dit werk nie. Dit is soos om ’n styfpassende deksel op ’n kokende kastrol te sit: Die een of ander tyd kom daar ’n onvermydelike, enorme gemors.

Laat los dit, sal hul waarskynlike raad wees. Kry dit uit jou lyf uit. Laat dit na God toe gaan. Kry dit na Hom toe uit. Hy is groot genoeg, God genoeg, om dit aan te hoor en iets beters daarmee te doen as wat jy kan.

Hy kan dit byvoorbeeld vergewe. Wat jy nie kan nie. Afskryf. Wat jy nie mag nie. Hy, hierdie God, sal jou gees en liggaam onder hande neem. Sy sagte, troostende werk daaraan sal jou nuwe krag gee.

Jou godsdiens gaan oor dié God. En Hy is die barmhartigheid Self.

Ek lewe van u vergifnis, Here! Ek ken geen ander brood vir my lewe nie.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.