Lees 2 Petrus 1:1-11.
Daarom … moet julle julle … daarvoor beywer om deur julle lewe te bewys dat God julle geroep en verkies het (v 10).
Ons het dit al by Jakobus gehoor: Geloof wat nie tot dade aanleiding gee nie, is dood (Jak 2:14-17). En dalk was daar ’n ma in jou lewe wat jou só gewaarsku het: “Woorde wek, maar voorbeelde trek!” Die Engelssprekendes ken dit as: “Practise what you preach!” Of: “Talk is cheap …”
Ag, eintlik het ons niemand nodig om dit te sê nie; ons weet: Jy kan die mooiste en kosbaarste dinge op die mees elegante en welsprekende manier denkbaar sê, maar as jou sêgoed nie deur jou dade onderstreep word nie, is daardie woorde goedkoop. Klatergoud. Soos ’n bankkaart wat deur ’n gleuf na jou toe terugkom met die boodskap: “Onvoldoende fondse”.
Vir gelowiges is daar helaas ook nie wegkruipplek nie. Die oomblik dat jy jou voet in ’n kerkgebou sit, of wanneer jy by ’n byeenkoms van gelowiges opdaag of met ’n oop Bybel betrap word, of gehoor word wanneer jy “Here, Here” sê, is jou doppie geklink. Nou word jy as een van “hulle” gereken: die gelowiges, die Jesusvolgelinge.
Mense kýk nou na jou.
Nou moet jy maak soos ’n gelowige moet maak: deugsaam wees, en vol kennis; die ene selfbeheersing en volharding en godsvrug; liefde onder mekaar hê, en vir alle mense (v 5-7). Hier, by hierdie soort gedrag, is daar nie ruimte vir teorieë en teologieë nie. Daar is beslis nie tyd om te probeer bereken hoeveel engeltjies op ’n naald se punt kan dans of om te debatteer oor watter kleur tossels die beste aan ’n kerkmens se vername toga lyk nie.
Hier vra die lewe jou as gelowige se volle aandag. Alle energie wat normaalweg in godsdienstige praatjies opgaan.
Leer my elke dag, Here, hoe ek as u kind moet lewe.
Barend Vos