Lees Jesaja 1:1-9.
Ek het kinders grootgemaak en opgevoed, maar hulle het teen My in opstand gekom (v 2).
Ondank is wêreldsloon, lui die ou spreekwoord. Ook ouers is nie daarteen immuun nie. Té veel keer word hul jare lange opofferings vir hul kinders nie behoorlik waardeer nie. Wanneer Jesaja dus hierdie Vader aan die woord stel en Hy sy opperste teleurstelling oor sy kinders uitspreek, raak dit sekerlik enige leser aan die hart.
Dit is boonop nie die enigste keer dat Hy so huil nie. Daar is mos die bekende gedeelte in Hosea waar Hy sê Hy het sy kinders leer loop en hulle op sy arms gedra. Hy het hulle met sorg en liefde gelei, na hulle toe afgebuk en hulle kos gegee. Dit was helaas nie genoeg om hulle tot dankbaarheid of selfs bloot erkentlikheid te beweeg nie (Hos 11:3-5).
Uit hierdie aanvangsverse in Jesaja blyk dié Vader se onbegrip dat sy kinders tot so iets in staat kan wees. Boonop het hulle vroeër reeds bitter swaar onder hul eie hardkoppigheid en ongehoorsaamheid gely – “en tog hou julle aan om van My af weg te draai” (v 5). Onbegryplik!
Ja, onbegryplik destyds, ewe onbegryplik vandag: brose mense wat goedheid met ondank beloon. Mense sonder selfinsig wat ’n opgeblase idee van hulleself het, en dit jou werklikwaar bly glo ten spyte van die oorvloedige getuienis wat van die teendeel getuig. Hulle is van kop tot tone vol letsels ná hul ontrou, maar hulle wil steeds nie hoor nie (v 6).
Hoe swaar dra God se kinders nie aan hul stiksienigheid nie, en hoe duur betaal hulle nie vir hul opperste ondankbaarheid nie …
Maar ons hoor nie. Ons is tog so gróót, so slím.
Wys my, Here, hoe om dankbaar te leef. Dit is tog so maklik om dankie, dankie te sê …
Barend Vos