Lees Jesaja 1:10-18.
Moenie langer julle nuttelose offergawes bring nie: Ek het ’n afsku van julle … sabbatsvierings, die uitroep van feesdae: Ek verdra nie feesviering met onreg saam nie (v 13).
Harde, hárde woorde. Boonop kom dit, sê die profeet, uit God se mond. Hy wat God is, is moeg daarvoor dat mense sy liefde en aandag en seën wil koop deur groot offers te bring en vername feeste te hou. Deur die pretensie van godvrugtige gelowigheid voor te hou terwyl die onreg in die land bloot voortduur.
Hy sê nóg ’n verskriklike ding, hierdie moeë God: Hy sê Hy sal nie meer hul gebede aanhoor nie, al bid hulle sonder ophou (v 15). Daar sal ’n drastiese verandering in hul gedrag moet kom voordat Hy weer na hulle sal luister.
Ag, en eintlik is dit nie só drasties nie. Hulle sal bloot die bloed aan hul hande moet afwas. Voordat dit gebeur, moet hulle liefs nie voor Hom verskyn nie.
Het hulle dan gemoor? Waar kom die bloed vandaan?
Klaarblyklik kleef die bloed van weduwees en weeskinders aan hul hande (v 17; Jes 1:23). Maar hulle is darem sekerlik nie vermoor nie, nié deur offerbringers en bidders nie, of hoe?
Nee, maar nou blyk dit dat die uitbuiting of bloot die verwaarlosing van hierdie weerlose mense vir die Here gelyk is aan moord. Dit ontstel Hom só dat Hy die godsdienstiges afraai om hul godsdiens te beoefen. Gaan hulle egter wel daarmee voort, moet hulle weet dat die Een aan wie hulle offer en tot wie hulle hul gebede rig, hulle doodeenvoudig sal ignoreer.
Godsdiens is nie ’n speletjie nie. Barmhartigheid ook nie. In albei begrippe is God die Barmhartige ter sprake. Hy is niemand se speelmaat nie.
Help my om af te leer om “Here, Here” te sê. Wys my wat ek moet dóén, Here!
Barend Vos