Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

God Genoeg

Lees Psalm 50.

Ek sou jou nie vra as Ek honger sou kry nie, want die aarde en alles wat daarop is, behoort aan My (v 12).

Dit is klaarblyklik ’n ou-ou misverstand, dié dat mense – gelowiges – reken die Here het hulle nodig. Dan sal hulle lawwighede kwytraak soos: “Ek moet ‘ja’ sê, want God het my nodig.” Of: “Ek sál gaan, want God het my nodig.” En daardie ou gunsteling: “Die Here het haar kom haal, want Hy het haar nodig gehad.”

Dit is heeltemal verkeerd om so te dink of te sê, hoe opreg dit ook al bedoel word. Ook Psalm 50 trek ’n streep deur dié misplaaste vroomheid. ’n Mens kry hier selfs die indruk dat sulke “God het ons nodig”-uitsprake gevaarlik naby aan laster gaan draai.

Nee, God is groot. Hy het genoeg aan Homself. Daarom het Hy niks van niemand nodig nie. Juis nie van hulle wat Hy in die lewe geroep het nie. Hulle – ons – het Hóm nodig, altyd, altyd, en vir alles. Dit is nooit andersom nie.

Daarom, sê die psalmdigter, is dit sy skepsels se enigste offer: om Hom te loof in alles wat ons sê en doen (v 14). Ons lewe is ons lofoffer aan Hom. Ons doen en late, ons spreke en ons swye – dit is waaruit ons lofoffer bestaan. Kortweg: Ons het Hom nodiger as enigiets of enigiemand om ons met hierdie lewe te help.

Dit is hierdie God wat ons “amen!” en ons “halleluja!” is. Hy is die Gewer en ons die dankbare ontvangers. Hy is die Voorprater en ons sy napraters. Hy is die Doener en ons die na-apers.

Ons is sy beelddraers, en Hy is ons God Genoeg.

Ons halleluja-Here! Hoe lieflik is u Naam oor die ganse aarde. Hoe glansryk u majesteit. Wat is die mens dan dat U aan ons dink …?

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.