Lees Sagaria 7:1-14.
Laat reg geskied aan almal, bewys liefde en barmhartigheid aan mekaar; moenie die weduwee en die weeskind, die vreemdeling en die arme verdruk nie; moenie bose planne teen mekaar bedink nie (v 9-10).
Ons ken dit uit talle plekke in die Ou Testament, hierdie onthutsende woorde uit die Here se mond: reg en geregtigheid, liefde en barmhartigheid. En die uitgesproke Goddelike partydigheid vir weduwees en wese, armes en vreemdelinge.
Daarby is die Here se weiering hier (v 13) om na die moedswilliges en hardhorendes te luister wanneer hulle op ’n dag om hulp roep, soortgelyk aan ander situasies waarvan ons reeds kennis geneem het (onthou Jesaja 1?).
Dié uitsprake verras ons dus nie. Juis nie hier waar daar weer eens hard gepraat word met mense wat nie leef soos God se kinders behoort te leef nie. Wat maak en (veral) breek soos hulle wil.
Wat wel nuut is, en onheilspellend, is dié gevolgtrekking: “Hulle het van ’n pragtige land ’n verwoeste land gemaak” (v 14).
Reg gehoor: Die Here sê nie Hý het dit gedoen nie (al kon Hy as Hy wou). Dit is ook nie die vyand wat dit reggekry het nie (al kon hulle as die Here dit wou). Nee, dit is die moedswillige en hardhorende inwoners van daardie land self, dié wat destyds deur God begunstig is, wat hul eie land verwoes het.
Kan dit wees! Kan ’n land se inwoners so kortsigtig wees en willens en wetens alles verwoes wat vir hulle dierbaar is? Dit is blykbaar nie te moeilik nie. Nie daar waar reg en geregtigheid en liefde en barmhartigheid ontbreek nie. Nie daar waar swakkes en weerloses uitgebuit word nie. Dáár bly net ruïnes agter, en vodde en vuil. En ’n hartseer Here.
Nee, Here, ek wil bou! Ek wil liefde gee, ek wil omgee en aangee. Soos U.
Barend Vos