Boodskap vir Vandag

Weggevat

Lees Lukas 19:11-27.

“Ek sê vir julle: Aan elkeen wat het, sal meer gegee word, en van hom wat nie het nie, sal ook die bietjie wat hy het, weggevat word” (v 26).

Hier is een van daardie Bybeltekse waaroor daar dikwels kop geskud word, waarna vinger gewys word, waarmee harte verhard word. Mense sal hieroor sug en sê: “Ja, wat kan ek doen? Hier staan dit tog in die Bybel …”

Hulle lees nie die hele storie nie. As hulle maar het, sou hulle nie maklik lawwe uitsprake maak oor God (of die geluksgodin) se partydigheid vir rykes en vooraanstaandes nie. Sal hulle nie afgunstig toekyk hoe die welgesteldes se rykdom toeneem nie. Sal hulle nooit weer sê nie: “Die Bybel sê mos dié wat het, sal meer kry.” Nee, as hulle die hele storie lees, sal hulle hulle straks daarop toespits om vas te stel wat hulle gedoen het met wat hulle ontvang het. Want dit is ’n feit: Elke gelowige het van die goeie Gewer genoeg ontvang – met dié opdrag: Gaan woeker daarmee!

En met dié waarskuwing: As jy niks daarmee doen nie, en dalk boonop die een of ander flou verskoning uitdink oor waarom jy laat slaplê, moet jy nie verbaas wees as dit van jou af weggevat word nie. Moet jou ook nie vererg oor wie dit dan sal kry nie. Natuurlik sal dit diegene wees wat erns maak met hul gawes. Hulle wat dít gedoen het, sal joune waarmee jy niks gedoen het nie, ook ontvang.

Luiaard! Kansvatter …

Nou is jy gedoem om jou lewe lank suurgesig rond te loop – altyd verontreg, immer te na gekom. Gereeld aan ’t Bybelverse buite konteks aanhaal om jouself te probeer regverdig. Terwyl jy diep in jou hart weet: Dit is alles my skuld.

Leer my, Here, om getrou te wees met wat U aan my toevertrou het.

Barend Vos

Geborg

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.