Lees Handelinge 22:22–23:11.
Daardie nag het die Here by Paulus gestaan en vir hom gesê: “Hou moed! Hier in Jerusalem het jy vir My getuig. So moet jy dit in Rome ook nog doen” (v 11).
Paulus bevind hom nogmaals in groot moeilikheid: Amper almal soek sy bloed – die Joodse gepeupel, die Fariseërs, die Sadduseërs, die hoëpriester.
Dit is net die Romeinse kommandant, onwaarskynlik soos dit is, wat hom bystaan en beskerm. Sien, dié man het te wete gekom dat Paulus ’n Romeinse burger is (v 26-29) en hy wil liefs nie kanse waag nie. Buitendien is hy nuuskierig om uit te vind waarom die Jode hierdie Paulus so haat (v 30).
Ons, twee duisend jaar later, sal hom kan sê daar is min mense wat so ongewild is soos dié uit eie geledere wat die lig gesien het. In Paulus se geval boonop letterlik só (Hand 9:3).
As Paulus die kans kry om sy storie te vertel, dan doen hy dit (Hand 22:1-21). Hy vertel alles, al gee dit aanstoot en al maak dit hom nog meer ongewild. Maar dit is eers in die laaste vers van hierdie Skrifgedeelte dat die leser bo alle twyfel vasstel hoekom Paulus maak soos hy maak ten spyte van die swaarkry wat dit meebring: Dit gaan oor God. Dit gaan vir Paulus altyd oor Hom, oor sy Naam en sy eer.
Daarom verras dit ons nie dat Hy Paulus in sy angs kom opsoek nie, en dat Hy hom dan sommer ook vertel watter planne Hy nog vir hom het.
Is daar ’n groter troos as dit? Dat die Here self vir jou kom sê van sy droom vir jou? Dat jy sy getuie sal wees tot ver anderkant jou eie verwagtings?
Here, as U my nie hoop gee nie, is daar niks in hierdie wêreld vir my nie. Dankie vir u stem in my lewe.
Barend Vos