Boodskap vir Vandag

Skuldig … of nie?

Lees Handelinge 24:10-23.

“Ek staan vandag hier voor julle tereg omdat ek aan die opstanding van die dooies glo” (v 21).

Paulus word deur ’n formidabele regspan voor die goewerneur gebring en daarvan aangekla dat hy ’n “gevaar vir die samelewing” is. Dat hy “skeuring in die Joodse geledere dwarsdeur die wêreld” bring. Dat hy “’n leier van die dwaalrigting van die Nasareners” is (Hand 24:5).

Hy kry darem die kans om hom te verweer en, soos gewoonlik, gryp hy dit met albei hande aan. Hy verklaar sy onskuld op al die klagtes en sê wat hy voor die Joodse Raad gesê het: Ek word aangekla omdat ek “aan die opstanding van die dooies glo” (v 21).

Die goewerneur weet dat die verhoor nou hoogs onseker is en besluit om die hof vir eers te verdaag. Paulus bly in aanhouding.

En ons, lesers van dié verhaal, bly met hierdie vraag: Waarvan sou ons aangekla kon word as ons vir ons geloof voor die hof gedaag sou word? Wat sou ons verweer wees? En: Sou daar genoeg getuienis wees om ons skuldig te bevind?

Strikvrae dié, almal van hulle. Want dit is mos maklik om jou op ’n afstand vir die Jode se kansvattery en dikwels openlike gelieg te vererg. Om jou kop te skud oor al die teenstrydighede in hul argumente en optrede. Dit is ook maklik om jou los te dink van die kwessie wat Christene van alle tye hier konfronteer: Hoe vaar jý met die eeue oue belydenis oor die opstanding van die dooies?

Dit is tog belangrik dat jy hieroor klarigheid het, want dit verklap ook jou siening van Christus se weerkoms en van die ewige lewe. Die vraag bly: As jy aangekla word oor jou geloof in dié dinge, sal jy skuldig bevind word?

Ek glo, Here! Kom asseblief my ongeloof te hulp!

Barend Vos

Geborg

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.