Lees Lukas 20:1-8.
Toe antwoord hulle dat hulle nie weet waar dit vandaan kom nie (v 7).
Jesus leer die mense by die tempel, soos dit ’n Joodse rabbi betaam. Maar dit is die inhoud van sy leringe wat die Joodse elite ontstel en hulle vra Hom: Met watter gesag doen jy hierdie dinge?
Hy antwoord hulle met ’n teenvraag: Kom Johannes die Doper se leringe van God af, of van homself?
Kolskoot! Wat hulle ook al antwoord, in die mense se oë sal hulle verkeerd wees. Daarom kies hulle die veilige uitweg: Ons weet nie, sê hulle. Toe sê Jesus: “Dan sê Ek ook nie vir julle met watter gesag Ek hierdie dinge doen nie” (v 8). Skaakmat.
Maar hulle, die Jode se groot manne, sou nie sommer bes gee nie. Hulle sou Hom weer en weer uitdaag. Daar was nog baie woede en moedswilligheid en stiksienigheid waar dít vandaan gekom het. Daar was boonop die durende bedreiging wat Hy vir hul gevestigde belange ingehou het.
Hul denkwyse verdien ons aandag, hierdie godsdienstige grotes, en dan veral die manier waarop “die mense” se mening die deurslag gee in hul onderlinge redenasies. Asook die rol wat eiebelang in hul optrede en die beplanning daarvan speel. Want hier is dit weer duidelik dat hul eerste oorweging nie is om te vra: Wat is reg? nie, maar: Hoe kan ons hieruit baat? Of, op die heel minste: Hoe kan ons die skade beperk?
Gelukkig gebeur sulke dinge nie meer vandag nie, nie waar nie? Gelukkig dink hedendaagse kerkmense en hul leiers prinsipieel en nie strategies nie, of hoe? Gelukkig is die eerste kerklike vraag altyd na die Here se wil en nie na die mense s’n nie, nè?
Here, ek is ook ’n kerkmens. Leer my om u wil in alles te soek, en oral waar U my vertrou.
Barend Vos