Lees Lukas 20:27-38.
“Die vrou nou, wie se vrou word sy met die opstanding? Al sewe het haar mos as vrou gehad” (v 33).
Gelowiges ken hulle goed: die mense vir wie dit ’n lewenstaak geword het om vrae oor die Bybel en oor geloof te vra. En, nee, nie vanuit ’n eerlike worsteling of om die regte inligting te bekom nie. Selfs nie eens uit doodgewone nuuskierigheid nie. Hulle vra bloot om die een aan wie hulle die vrae vra, onverhoeds te vang. Om te kyk hoe sy of hy met dié vasvraery sukkel.
Waar het Kain en Abel vroue gekry? vra hulle. Of: Wat word van die mense in die verre, onbereikte lande wanneer die oordeelsdag kom? Wat sou Paulus se “doring in die vlees” (2 Kor 12:7) gewees het?
Niemand kan dit beantwoord nie, en die vraagstellers weet dit. Nie dat hulle in ’n antwoord belangstel nie; hulle wil bloot die stotteraar smalend bekyk. Hul eiewaarde ’n paar kerwe in hul eie oë opjaag. Dalk iets sê soos: Hmmm … Jy weet toe ook nie so baie nie, nè?
Hierdie opportunistiese beterweterigheid is klaarblyklik so oud soos die berge. Hoor dan die Sadduseërs se lang vraag aan Jesus. Die ingewikkelde, onwaarskynlike scenario wat hulle skets: Sê nou daar is ’n vrou wat kinderloos gelaat word toe haar man sterwe, en die man se sewe broers … Ensovoorts, ensovoorts.
Hulle sal nooit met enige antwoord tevrede wees nie. Hulle sal nooit besef dat hul vrae meer van hulleself verklap as wat hulle sou vermoed nie, en dat dié speletjies nie ’n mooi prentjie van hulle skets nie.
Here, leer my om U te eer én om geduld met my medemens te hê. En gee my die vermoë om te kan onderskei tussen wat saak maak en wat bloot kinderagtige speletjies is.
Barend Vos