Lees 2 Petrus 1:16-21.
Hierdie boodskap is soos ’n lamp wat in ’n donker plek skyn. Julle sal goed doen as julle in sy lig bly totdat die dag aanbreek en die môrester opkom in julle harte (v 19).
Ons ken dit reeds uit die Ou Testament: “U woord is die lamp wat my die weg wys, die lig op my pad” (Ps 119:105). Reeds daar word erken dat gelowiges se lewenspad nie noodwendig met rose bestrooi is nie. Dat daar donker dieptes is wat verlig moet word. En dat dit die Godswoord is wat dit doen.
Nou, hier in die Nuwe Testament, is die troos selfs groter en die hoop selfs helderder. Petrus skryf onder meer oor die stem van God wat hy en sy dissipelvriende gehoor het toe hulle saam met Jesus was. Oor hoe dit die ou profete se boodskap onderstreep (v 18). Soos ’n lamp op ’n donker plek, sê Petrus, is hierdie boodskap.
En, voeg hy dadelik by, julle moet vir jul eie beswil in hierdie lamplig bly. Gelukkig is dié lig net voorlopig. Daar kom ’n dag dat die môrester in jul hart sal opkom, belowe hy.
Jesus belowe nóg meer, en dit op die laaste bladsye in die Bybel: “Ek is die helder Môrester” (Op 22:16). Dit verheug sy volgelinge, want die lig wat deur die woorde oor Hom gebring word, kan tog niks meer as ’n flikkerende lamp wees wat die donker op ’n afstand hou nie. Eers die ware Lig sal die duisternis finaal verdryf.
Dit is wonderlik om te weet dat die woorde oor Jesus Christus nie die laaste woord oor Hom spreek nie. Hy is self die Laaste Woord, die Amen van sy evangelie.
Daarom leer U my om nie u woord, te midde van my gebrekkige verstaan daarvan, te aanbid nie, maar om voor U te kniel, o Lewende Woord.
Barend Vos