Lees Psalm 123.
Soos die oë van ’n slaaf gerig is op die hand van sy eienaar, soos die oë van ’n slavin gerig is op die hand van haar eienares, so is ons oë gerig op die Here ons God, totdat Hy Hom oor ons ontferm (v 2).
Ons kan die lewe beswaarlik sonder ontferming oorleef. Wanneer Jesus eeue nadat hierdie psalm geskryf is oor die groot gebod uitwei, vertel Hy ’n storie oor ’n vreemdeling wat medelye aan ’n erg beseerde mens bewys het. En, sê Hy aan die kerkmens wat Hom daarna gevra het: “Gaan maak jy ook so” (Luk 10:37).
Dit is waarskynlik alle mense se vernaamste begeerte: ontferming. En dan in die woordeboekbetekenis daarvan: medelye hê. Saam voel. Saam huil. Gelowiges weet van altyd af dat dit ’n wesenskenmerk van hul geloof is om saam met ander te lag en saam met hulle te huil (Rom 12:15).
En, nee, dit is nie moeilik om dit reg te kry nie (hoewel daar sommige is wat sal sê dit is nogal moeilik om altyd saam te lag …). Maar medelye – simpatie, empatie, ja, ontferming – kom vir die meeste gelowiges maklik. Wanneer iemand anders opsigtelik swaar kry, prikkel dit jou geheue (en straks ook jou gewete) en onthou jy gou hoe swaar jy al gekry het.
Ons verstaan ook goed dat ons ontferming aangeleerde gedrag is. Dat daar Iemand is wat Hom nog altyd oor ons ontferm het en wat ons geleer het om te maak soos Hy ons geleer het. Só: “As Ek … dan julle voete gewas het, behoort julle ook mekaar se voete te was” (Joh 13:14).
Ons weet, soos die psalmdigter, hoe stip ons die Goddelike hande dophou. Hoe dit na ons toe uitgestrek word. Hoe dit om ons vou. Hoe dit ons leer en na wie toe dit ons wys.
O Groot Ontfermer, hou my styf vas!
Barend Vos