Lees Johannes 5:18-29.
“Dit verseker Ek julle: Wie luister na wat Ek sê, en in Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe. Hy word nie veroordeel nie” (v 24).
Jesus het dit reeds aan Nikodemus gegee, dié versekering dat wie in Christus glo, nie veroordeel word nie. God het immers nie sy Seun na die wêreld toe gestuur om die wêreld te veroordeel nie, “maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word” (Joh 3:17).
Hieroor, sê Jesus, is die Vader en die Seun dit met mekaar eens. Trouens sê Hy, “wat die Vader ook al doen, doen die Seun ook net so” (v 19).
Maar wat vir ons, twee duisend jaar later, na vrymakende evangelie klink, was vir die destydse kerkmense sulke erge laster dat hulle Hom, hierdie Seun, wou doodmaak. Om God darem “my Vader” te noem …
Wat eens te erg vir hulle was, is vandag by ons tweede natuur. Ons noem God dan ook “ons Vader” – soos die Seun ons geleer het. En ons weet lankal dat ons nie veroordeel word oor ons sondes en traagheid en kleingeloof en ons algemene gesukkel om ons medemens lief te hê nie. Ons Vader het dan juis vir Jesus gesalf om ons te kom leer hoe om soos Godskinders te lewe en lief te hê.
Nee, kan ons aan die destydse ontevrede Jode sê, ons lewe nie hierdie lewe suutjies en vol vrese nie. Ons leef soos vrygemaaktes, soos mense wat weet dat ons ’n ewigheid aan God verbind is.
Ons is dus nie eens vir die dood bang nie. Ons weet die dood is ’n kort reis na die lewe by ons Vader. Buitendien pak ons dit nie op eie houtjie aan nie; ons oudste Broer dra ons daarheen.
Dat U my dra, Here Jesus, altyd en oral, is my enigste troos in lewe en in dood.
Barend Vos