Lees 2 Tessalonisense 1:3-12.
God is tog regverdig: die mense onder wie julle nou so ly, sal Hy as straf ook laat ly; en aan julle lyding … sal Hy ’n einde maak (v 6-7).
Gelowiges wat swaarkry se verwagting én herhaalde pleidooi in hul gebede gaan oor God wat asseblief tog moet ingryp. Dat die einde van die lyding moet aanbreek. Dat die wiel beslissend moet draai.
En, tipies mens, is ook dít ’n houtstomp op hul vreugdevuur: die ondergang van die verdrukker. Dit is in elk geval onafwendbaar, skryf Paulus hier, God laat nie met sy kinders mors nie.
Hoe goed is dié nuus nie! Juis vir hulle wat so lank en so swaar moes ly onder die meedoënlose vervolging waaraan hulle onderwerp is. Dit moet eenvoudig nóú gebeur, die tyd vir afrekening moet gou aanbreek.
Dit is presies hier waar die knoop lê: Paulus sê hulle moet wag. God sál sy woord hou, maar die finale ingryping sal eers plaasvind wanneer Christus weer kom. En, voeg hy later by, dit sal op sý tyd en op sý voorwaardes gebeur en nie omdat enigiemand anders iets anders geprofeteer het nie (2 Tess 2:2-6).
Ai, om eerlik te wees: Dit is ’n groot teleurstelling. Gelowiges wat moeg geskop en geslaan is, wil sonder verwyl uitkoms hê. Hulle wil so gou moontlik beleef hoe God in sy geregtigheid met die misdadigers afreken. Werklike regverdigheid, sê hulle, moet gesién word, en daarom hou hulle hul oë gefokus op God se vuis. Nou blyk dit dat dié kragdadige optrede eers met die weerkoms gaan plaasvind. Hoekom moet ons so lank wag? Hoekom draai die wiel so stadig?
Waarom talm God so?
Ag, Here, ek is nie goed met wag nie. Ek wil sien hoe U ingryp. En, vergewe my, maar ek wil weet dat U my swaarkry sal wreek.
Barend Vos