Lees Lukas 17:20-37.
“Hulle sal nie kan sê: ‘Kyk, hier is dit!’ of: ‘Daar is dit!’ nie, want die koninkryk van God is hier by julle” (v 21).
Mense wil bitter graag die held in hul eie voorspellings wees. Hulle wil triomfantelik kan uitroep: Sien? Ek het julle mos gesê! Dalk is daar by elkeen van ons ’n geheime begeerte om as ’n soort profeet beskou te word. Iemand wat ander mense met hul geloofsonsekerhede en godsdiensvrese kan help. Wat is immers meer indrukwekkend as ’n uitgestrekte vinger wat na môre beduie, wat met stellige sekerheid die verloop van die toekoms uitwys?
Behalwe dat Jesus sê dit is nie so eenvoudig nie. Die koms van God se koninkryk word nie deur amateurvoorspellers aangedui nie. Trouens, sê Hy, hulle kyk hoeka in die verkeerde rigting en boonop gans te ver; hulle moet God se koninkryk heelwat nader soek.
Die koninkryk is hier, sê Hy. Dit is tog logies: Die koninkryk is waar die Koning is, en Hy is hier. Hy heet Immanuel, dit beteken “God by ons” (Matt 1:23). Daarom hoef gelowiges hulle nie moeg te maak met profetespeletjies nie. Hulle moet hulle eerder daarop toespits om priesters te wees. Om dié wat hartseer is, te troos. Om seergemaaktes te versorg. Om wonde te verbind. Om sagte woorde te gebruik teenoor diegene wat net skeltaal en verwyte ken. Om vergifnis te skenk aan hulle wat iewers oortree het.
Dit is wanneer koninkrykskinders sulke dinge doen dat die koninkryk keer op keer kom. Hier. Nou.
Ja, dit is minder dramaties as om uit te roep: Daar is dit! Maar dit is wat die Koning van sy kinders vra, hierdie voetewassery. Beslis nie om kammaprofeet te speel nie.
Koning van my lewe! Leer my keer op keer die grondreël van u koninkryk: hoe om werklik lief te hê.
Barend Vos