Boodskap vir Vandag

Search

Leeglêers

Lees 2 Tessalonisense 3:6-13.

Onttrek julle aan elke broer wat leeglê en hom nie hou aan die opdragte wat julle van ons ontvang het nie (v 6).

Nee, leeglêers word nie net op parkbankies aangetref nie. Buitendien is elkeen met ’n bak hand en ’n gehawende geskiedenis nie noodwendig sku vir werk nie. Daar is egter wel gelowiges wat nie in fluksheid uitblink nie. Hulle sit die kerkbanke vol …

Dit was destyds so in die gemeente in Tessalonika, en daar bestaan geen rede om te dink dat hulle soort daar uitgesterf nie.

Gemeenteleiers en sameroepers en voorsitters en enigeen wat al op die een of ander manier hulp in die geloofsgemeenskap aangebied het, sal hulle alte goed ken: Dit is dié wat baie praat en weinig doen, die ene kritiek is maar geen bydrae lewer nie. Hulle is vol raad vir ander se probleme, maar self verroer hulle nie ’n vinger nie. As daar geëet of geaas word, is hierdie loodswaaiers voor in die koor; as hulle gevra word om te help, is hulle skoonveld.

Nog erger: Hulle is mense wat “hulle net met ander se sake bemoei” (v 11). Hulle is dus nie bloot baiepraters nie, maar straks ook kwaadpraters.

In Tessalonika se gemeente is daar sekerlik ook hard probeer om hulle oor te haal om hul medegelowiges by te staan. Dalk is hulle mooi gevra om asseblief te kom help. Dalk het die leiers op ’n keer gesê: Kom ons probeer weer om hulle te betrek …

Klaarblyklik het Paulus nou genoeg gehad. Daarom sê hy die gemeentemense aan om voortaan hul rug vir diesulkes te draai. Die Here se opdragte is veeleisend; die gemeentelede het nie die tyd en die krag om hulle aanhoudend met vetgevoerde luiaards te vermoei nie.

Neem my hande, maak hulle sterk, Here! En diensbaar in u goeie werk.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.