Lees Efesiërs 4:25–5:2.
As julle kwaad word, moenie sondig nie, en moenie ’n dag kwaad afsluit nie. Moenie die duiwel vatkans gee nie (v 26-27).
Hy vát jou daar waar jy hom kans gee om jou te vat. So sal menige ontnugterde gelowige jou vertel. Die Griekse mitologie het aan ons die verhaal van Achilles en sy ontblote stukkie hakskeen gegee; gesonde verstand en dure ondervinding leer ons dat ons swakplek die duiwel se vatplek is.
Hy vat jou daar waar jy die skanse laat sak het: in jou mond, aan jou hande, in jou hart. En as hy jou eers daar gevat het, laat hy nie sommer los nie. Hy verstewig trouens sy greep, hy hou wat hy het. Die ellende wat hy jou aandoen, versprei wyd en geil en neem alles oor. Die halwe waarheid word gou ’n volslae leuen (v 25); die vinnige vloekwoord (v 29) ontaard maklik in ’n uitgerekte skelsessie (v 31). Boosheid bo!
Die enigste raad? Voorkoming, sê Paulus. Moenie daardie nare ou ding die geringste vatkans gee nie. Moenie dit eens waag om te gaan slaap voordat jy nie vrede in jou hart en in jou onmiddellike omgewing het nie. En as jy dit nie reeds het nie, gaan maak dit dan. Want hy is ’n sluwe opportunis, hy sien die kleinste gaping wat daar tussen mense ontstaan het dadelik raak.
Dan vát hy sy kans. Verloop daar boonop ’n hele nag terwyl hy hom gretig inwurm, rig hy groot skade aan. Keer dit, sê Paulus. Stel desnoods jou slaaptyd uit; dit is wanneer jy en jou mense op jul weerloosste is. Ruim dadelik die spanning uit die weg. Kom gou-gou weer naby aan mekaar sodat niks en niemand ongenooid tussen julle kan kom nie.
Vat die ellendeling vas!
Net Een mag aan my vat, Here, en dit is U. Neem my in u beskerming, asseblief.
Barend Vos