Boodskap vir Vandag

Vry, maar …

Lees 1 Korintiërs 10:23–11:1.

Daar is mense wat sê: “Alles is geoorloof.” Ja, maar nie alles is heilsaam nie … nie opbouend nie (v 23).

Natuurlik is Christene bevryde mense. Hulle is losgekoop van die Moseswette, hulle is vrygemaak deur Jesus se bloed.

Daarom is hulle ook vry van bygelowe. Hulle weet daar is nie dinge soos afgode nie. Hout en klip en starende oë is geen god nie. En lekker vleis wat aan hierdie sogenaamde gode geoffer is, is vir gelowiges net so smaaklik soos enigiets anders wat in die slaghuis gekoop kan word.

Eet en drink en wees vrolik, sê Paulus, “want die aarde met alles wat daarop is, behoort aan die Here” (v 26).

Daar is maar een Gesag, een Wet, vir die Here se dienaars – Hý. Ja, Hy is die eerste en die laaste Woord in enige argument oor al die “moenies” wat deur die eeue lustig tussen gelowiges gewoed het. Tussen Christene, ja. Mense wat die beste van almal behoort te weet hoe duur hul vryheid gekos het. Wat dit nie durf geringskat nie.

Daar is wel een klousule in Jesus se vryheidswet, een vraag wat alles bepaal: Hoe raak jou vryheid jou medemens? As alles jou geoorloof is, beteken dit dat alles heilsaam is? Ook vir die medegelowiges? Bou jou vryheid hulle op?

Paulus sê: Onthou jou broers en susters wat nie te lank gelede nie uit die heidendom na die gemeente gekom het. Hulle het grootgeword in die skemerwêreld van die afgode. En dié duister geskiedenis sit nog vars in hul gemoed.

Kom hulle hierin tegemoet. Soek húlle belang in hierdie teer saak. As dit dalk ook beteken dat jy vir eers jou vleistande moet trek, doen dit met liefde.

Ek dank U, Vrymaker, vir alles wat U my skenk. Gee my die onderskeidingsvermoë om dit reg te gebruik.

Barend Vos

Geborg

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.