Lees Psalm 141.
Sit ’n wag voor my mond, Here … Hou my gedagtes weg van verkeerde dinge (v 3-4).
As ons tog nie so vinnig gepraat het nie! As ons gedagtes tog net nie so gedwaal het nie …
Ja-nee, dié kwale is so oud soos die Bybel. Hierdie psalmdigter is boonop bitter bang dat sy los mond en ewe los gedagtes hom in dieselfde geselskap as die onregplegers sal laat beland. Dit is allermins wat hy wil hê. Hy wil eerder bekend staan as ’n mens wie se woorde en gedagtes op God se goedheid gerig is.
’n Edel motief, as daar al ooit een was. En waar anders begin hierdie proses as juis by die gedagtes? Eeue ná hierdie digter sou Paulus dit ook weet wanneer hy die gelowiges presies só sou aansê: “Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe” (Rom 12:2).
Moenie dink soos hulle dink nie, want dan gaan jy begin praat soos hulle praat. Kort voor lank gaan jy maak soos hulle maak.
Dit is die logiese gang van sake. Só gebeur dit met mense, gelowiges, wat nie in hul pasoppens is nie. Ons dink ons is vry, en daarom leef ons nie waaksaam genoeg nie. Ons gee ons gedagtes vrye teuels en laat dit toe om wilde bokkespronge te maak. En voor ons ons kom kry, loop die mond daarvan oor, met die hande en voete wat ewe gedweë volg, dalk selfs gretig.
Die psalmdigter se uitweg uit dié nare kettingreaksie is om die Here te vra om die ketting te breek deur sy gedagtes te bewaar. Deur die wag voor sy mond op en wakker te hou.
U moet dit asseblief doen, Here! My kop los my soms, en dan dwaal my mond agterna.
Barend Vos