Lees 1 Petrus 1:3-9.
In sy groot ontferming het Hy ons die nuwe lewe geskenk deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood. Nou het ons ’n lewende hoop (v 3).
Ons almal hoop maar – en meestal op die beste. Soms sê ons ewe dapper dat die hoop gelukkig nie beskaam nie. Dat wie nie hoop nie, nie sal slaag nie.
Só ryg ons die een cliché na die ander in, in die hoop dat ons iewers gelukkig genoeg sal wees om te sien dat ons hoop ’n werklikheid word. Die feit van die saak is dat dié hoop-op-die-beste alte dikwels op die slegste uitloop. Dat dit meestal so skouspelagtig beskaam dat ons spoedig alle hoop verloor.
Daarom lê ons ons eerder op bekommernis toe, want as ons vrese nie bewaarheid word nie, smaak ons darem ’n flentertjie verligting. Totdat die volgende stuk angstigheid hom aan ons kom opdring.
Laat ons net eers oor een sakie duidelikheid kry: Die hoop waaroor Petrus hier skryf, bevat ’n spelfout. Dit moet “Hoop” heet. Hoofletter-hoop. Want die hoop wat nooit beskaam nie is nie ’n emosie of ’n goeie wens nie; dit is ’n Persoon.
Hierdie Hoop ís die beste. Méér: Hy is die enigste. Hy hou die toekoms in sy hande, en Hy waarborg ’n gelukkige einde. Nee, Hy belowe nie dat alles altyd klopdisselboom en noukeurig volgens plan sal verloop nie, maar Hy maak daardie steriele ou hoop-op-die-beste totaal onnodig. Hy verwyder die verlammende, futiele vrees-vir-die-toekoms uit die prentjie.
Om te dink dat dit alles by ’n graf begin het, daardie belangrike simbool van hooploosheid. Toe verskyn God se “groot ontferming” (v 3) mos op die toneel. En die res is, soos hulle sê, geskiedenis.
U is my lewenshoop, Here Jesus. U maak my vry van nuttelose vrese.
Barend Vos