Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Vredevors

Lees Psalm 46.

Kom kyk wat die Here gedoen het … die oorloë oor die hele aarde laat Hy ophou, pyle en boë verbreek Hy, spiese slaan Hy stukkend, oorlogswaens verbrand Hy (v 9-10).

Sou dit werklik gebeur het? Dat God wêreldwyd van verwoestende wapentuig ontslae geraak en oorloë beëindig het? Of is dié psalm bloot ’n bedreigde volk se optimistiese droom? Boonop, soos drome maar is, erg onrealisties?

En indien dit laasgenoemde is, moet ons dit steeds lees? Dit ernstig bestudeer? Preke hieroor maak en dit in Bybelstudiegidse opneem?

Buitendien: Is hierdie psalm, soos soveel ander in die Bybel se psalmbundel, nie maar eksklusief op ’n ou volk gerig nie? Geskryf in ’n wêreld wat nou vreemd is en ’n tyd wat lank vergete is?

Sekerlik, ja. Daar is wel een komplikasie: Dié psalm, soos al die ander, vertel ons van God. En Hy sal altyd die Skepper van sy wêreld wees en deur alle tye die Bewaarder van sy skepsels.

Daarom kan ons dit maar, met al die werklikhede en versugtinge daarin, met vrymoedigheid lees. Én met die aandagtigheid wat ons aan God verskuldig is. Dan sal ons dalk twee keer dink oor konflikte en bewapening. Ons sal kennis neem van God se standpunt hieroor. Moontlik kom ons agter hoekom ’n groot profeet so uitbundig oor die koms van ’n “Vredevors” (Jes 9:5) sing wanneer hy ’n nuwe, hoopvolle begin vir sy mense voorspel.

Ja, wanneer ons Psalm 46 met ’n onbevange gemoed lees, is daar ’n kans dat ons sal ophou oë rol soos siniese grootmense en begin om saam met die kleintjies te sing: “My God is so groot, so sterk en so magtig, daar’s niks wat my God nie kan doen.”

Wat kan ek nou sê, Here? Is “ek is jammer” genoeg? Met “halleluja!” daarby?

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.