Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Wie het die reg …?

Lees Psalm 24.

Wie mag die berg van die Here opgaan en wie mag in sy heiligdom gaan staan? (v 3).

Net ná die geliefde Psalm 23 volg hierdie een. En net soveel onverdunde troos soos ons by sy veelgelese voorganger gekry het, net soveel onsekerhede gooi hierdie een in gelowiges se gesig.

Hoor dan: Terwyl die psalmdigter met ’n geloofsekere stelling afskop (“Die aarde … behoort aan die Here” – v 1), word dit dadelik gevolg deur ’n vraag-en-antwoord wat ons stomslaan. Die vraag is bekend – Wie mag in die Here se teenwoordigheid kom? (v 3) – maar die antwoord uiters ontstellend.

Hier blyk dit in soveel woorde dat die heilige God slegs heiliges by Hom verdra: dié met rein hande en ’n suiwer hart. Hulle met ’n skoon gewete en ’n onberispelike verlede (v 4).

Sjoe. Hierdie reguit antwoord diskwalifiseer ongeveer almal wat die psalm lees. Ons moes maar ná die vorige een ophou lees het … As enigiemand boonop enige twyfel oor die digter se oortuigings het, ruim hy dit met die volgende versekering uit die weg: Die beloning vir dié goeie gedrag is groot: niks minder nie as God se seën en God se sorg (v 5).

Waar laat dit ons met die minder goeie gedrag? Ons wat swaar dra aan ons verlede en soms sukkel om asem te kry vanweë ’n gewete wat ons verstik?

Dit laat ons met geen ander keuse nie as dít: Vra die Een met die reinste hande om jou op te tel en tot voor sy Vader te dra. Vra Hom wat die suiwerste hart het om jou en jou saak voor die Regter te bring. Laat Hy, die Onbevlekte, jou skarlaken afwas en vir jou wit klere aantrek.

Ek het geen voet om op te staan nie, Here Jesus. Geen verweer nie. Ek het net vir U. Ontferm U oor my!

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.