Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Droomgewer

Lees Jesaja 33:17-22.

Kyk na Sion, die stad waar ons ons feeste vier: jou eie oë sal Jerusalem sien, ’n veilige woonplek waar jou tent nie versit hoef te word nie (v 20).

Vir die ballingskapvoos volk moet dit ’n droomprentjie gewees het: hul ou, geliefde stad, nou volkome herstel tot sy voormalige glorie. Hulle kan weer veilig daar gaan woon, en vir altyd.

Maar terwyl hierdie prentjie aan hulle gewys word, besef hulle dat dit nog net ’n droom is. Hulle voel steeds die harde werklikheid van die ballingskap in die vreemde aan eie lyf. Die gesig wat die profeet sien, is bloot ’n troostende visioen van wat op hulle wag. Wat die moeite werd is om wyd te verkondig, sodat die hoorders hoopvol kan lewe, hul moeë oë gevestig op ’n blinker toekoms.

Dié Jesajavisioen laat Christengelowiges onwillekeurig ’n soortgelyke troosprentjie onthou, boonop in daardie groot troosboek, die Openbaring aan Johannes. Daar sien Johannes die nuwe Jerusalem en hy beskrywe dit in volkleur: die edelstene in die fondamente, die pêrelpoorte, die goue strate (Op 21:9-27).

Ja, ons weet ook dit is nog net ’n droom. Die werklikheid staar ons elke dag in die gesig. Steeds voel ons die ongenaakbaarheid van hierdie lewe en hierdie land aan ons lyf en ons gemoed.

Maar dan lees ons van die God wat voor almal se oë alles nuut maak (v 20; Op 21:5). En omdat dit Hy is en nie die een of ander opportunis uit die kerk of die politiek wat dit belowe nie, bring dit werklike troos en ware hoop.

Die skeptiese en siniese mense kan gerus maar grinnik. Hulle het sekerlik nie, soos ons, drome nodig om te oorleef nie. En hulle ken ook nie die Gewer van alle goeie drome nie.

Ook ék sien ’n nuwe hemel kom, ’n aarde nuut en vry!

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.