Lees Lukas 1:1-4.
Hooggeagte Teofilus! Daar is baie wat onderneem het om ’n verhaal te skrywe van die dinge wat onder ons gebeur het (v 1).
Wat ’n verhaal! Dit is in alle opsigte die moeite werd om goed navorsing hieroor te doen, soos Lukas onderneem het, en om dit dan noukeurig neer te skryf. Om dit by voltooiing aan ’n gewaardeerde vriend te stuur. Wat, vanselfsprekend, dit weer aan ander sal besorg. Dit is mos die ding met die versameling geskrifte wat ons vandag “Die Bybel” noem: Dit kom van ver af, dit het eens ’n spesifieke adres gehad, dit het tallose draaie deur die wêreld gemaak. En deesdae lê dit op ons bedkassie. Ons is egter ook nie die finale bestemming nie; dié verhale kom nie by ons “tot rus” nie. Ons het die opdrag om dit verder te vertel. Juis die Jesusverhaal, sodat sy volgelinge meer kan word en die regte dinge geleer kan word (Matt 28:19-20).
Ag, en mag ons tog ook soos Lukas dit goeddink om hierdie verhale met heilige respek te hanteer. Altyd gekenmerk deur goeie navorsing en noukeurige optekening en betroubare verkondiging (v 3-4).
Dit is tog altyd die slaggat by sulke verhale: die argeloosheid (dalk sommer luiheid?) van die oorverteller. Die maklike invoeg en onverskrokke bylieg om ’n eie agenda te dien. Die verontagsaming, dikwels doelbewus, van die omstandighede waarin daardie eerste vertellers hulle bevind het.
So ’n los-en-vas-omgaan met die Bybelse verhale beloof net moeilikheid. Daar is heelparty ontnugterde hoorders wat daarvan kan getuig. Hulle was die slagoffers. Hulle moes ook as “hooggeag” aangespreek gewees het; in plaas daarvan is hulle deur die oorvertellers geïgnoreer. Sommige sal sê hulle is verneder, selfs vervloek.
Here, dit is dan ú verhaal! Hoe kan ons dit so verknoei?
Barend Vos