Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

’n Nuwe begin

Lees Jeremia 23:1-6.

Dan sal Ek herders oor hulle aanstel, en dié sal hulle versorg, en hulle sal nie meer bang of verskrik wees nie en hulle sal nie meer wegraak nie (v 4).

Die herders wat aanvanklik aangestel is om die Here se kudde te versorg, was klaarblyklik nie sy vertroue werd nie. Dit was immers tydens húl dienstyd dat die kudde uitmekaar gejaag is. Hulle het die Here se eiendom doodeenvoudig nie behoorlik opgepas nie.

Dit is mos die ding met herders: Hulle is nie baas nie, al dink hulle soms hulle is. Herders is knegte wat deur die Baas aangestel word. Hul opdrag is om na die Baas se eiendom om te sien. Om te sorg en te versorg. Om te beskerm. Om die bes moontlike oppasser vir die Baas se kosbaarhede te wees.

Daarom is baasspelery in dié geval sonder meer taboe. Verwaarlosing nog meer so. Asook, en dalk die ergste van alles, die doelbewuste beeld wat na buite uitgestraal word dat hierdie troppie “myne” is.

Die Here speel nie met herders wat hul sogenaamde posisie misbruik nie: “Ellende wag vir julle …” (v 1). Niemand vergryp hulle aan my skape nie!

Daarom, sê die Here deur sy profeet, het die tyd vir ’n heel nuwe bedeling aangebreek. In die nuwe tyd sal daar reg en geregtigheid wees, en voorspoed en vrede. Die kudde sal hul vrees verloor.

Hulle sal boonop ’n nuwe woordeskat aanleer. Voortaan sal hulle kan sê: “Die Here is my herder, ek kom niks kort nie. Hy laat my rus in groen weivelde. Hy bring my by waters waar daar vrede is. Hy gee my nuwe krag. Hy lei my op die regte paaie …” (Ps 23:1-3).

Ja, my Herder, selfs al gaan ek deur donker dieptes, sal ek nie bang wees nie, want U is by my. In u hande is ek veilig.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.