Lees Kolossense 1:11-20.
Hy is die hoof van die liggaam, van die kerk (v 18).
Wat deur die Ou-Testamentiese profesieë nog in beeldspraak verhul word, word deur die Nuwe-Testamentskrywers sommer blatant gesê. Hul woorde is reguit, nie vatbaar vir misverstand nie: Jesus is die Herder van sy trop. Punt.
Daar kan geen beter Oppasser wees nie. Paulus skryf hier met groot oortuiging dat Hy, Jesus, sy Vader se verteenwoordiger is. Dat ons in Hom die onsienlike God sien. Dat Hy, Jesus, hoog verhewe is, die Eerste van alles en almal. Dat dit deur Hom is dat ons met God versoen geraak het.
Ja, dit is toe nie net die Herder wat ’n nuwe Een is nie; ook die trop het nuut geword. Beter gesê: Die trop is nuut gemaak.
Laat kerkmense dít op die vooraand van die Adventstyd ter harte neem: Jesus het sy kerk kom red. Hy wat by uitnemendheid die Een is wat iets uit niks maak, het dit ook met hierdie deel van sy eiendom kom doen. Hy het hulle uit die mag van die duisternis kom wegruk. Hulle wat vanweë hul en hul leiers se eie toedoen tot pikdonkerte verdoem is, is deur Hom na die lig gelei (v 13).
Wat tot ’n ruïne verval het, het Hy in ’n splinternuwe gebou omskep. Met Homself as hoeksteen, bou Hy sedertdien met lewende stene (1 Pet 2:4-10).
En óns is die bevoorregtes wat goed in sy Boumeestershande pas. Ag, en as ons ons tog net nie, in die wind en weer en die verleiding van hierdie wêreld en met die dikwelse en tipiese argeloosheid van bevoorregtes, nogmaals begin verbeel dat ons ons eie trotse handewerk is nie …
U het ook met my oor begin, Here. Met my en die kerk waar ek tuis is. Moet ons tog nooit aan ons eie genade oorlaat nie, asseblief.
Barend Vos