Lees Jesaja 2:1-5.
Kom, volk van Jakob, laat ons lewe in die lig wat van die Here af kom (v 5).
“Daar kom ’n tyd …”
Só begin Jesaja hierdie profesie. En is dit nie die mees troostende woorde wat gelowiges maar kan hoor nie? Daar kom ’n tyd wanneer hierdie tyd verbygegaan het. Die Engelse sê mos: “This too shall pass …”
Vir die ou volk moes dit soos musiek in die ore geklink het. Hulle is allerlei planne aan ’t beraam ten einde staande te probeer bly in ’n vyandige omgewing waar die bedreiging ál nader kom. En hier sê hul profeet hulle moet tog nie in hul desperaatheid allerlei dom dinge aanvang nie; daar kom ’n tyd dat die Here se woonplek die ander nasies sal nader trek. Hulle sal sê: Kom ons gaan leer wat die wil van die Here is (v 2-3).
Daar kom ’n tyd wat ’n nuwe vrede sal bring: Swaarde sal ploegskare word en spiese snoeiskêre. ’n Ongehoorde, ongekende tyd. Dit is die tyd van die groot lig wat van die Here af straal.
Kom! sê die profeet vir sy mense. Kom ons gaan leef in daardie lig!
Die ou volk se tye en omstandighede was anders as ons s’n. Ook hul indertydse idee van God se lig verskil waarskynlik baie van ons s’n. Ons weet nou dat God se lig met ’n hoofletter geskryf word. Hoe kan dit anders as die Evangelieskrywer Johannes in sy eerste hoofstuk hierdie lig wat van God af kom met ’n baie belangrike Persoon in verband bring? (Joh 1:9). En as Laasgenoemde dit boonop van Homself sê? (Joh 8:12).
Ja, die troosbelofte aan die ou volk kry ’n veel ryker betekenis vir mense wat die Adventstyd vandag binnegaan. Mense wat weet die tyd het toe gekom.
Ons aanbid U, Wonderlig uit Betlehem!
Barend Vos