Lees Psalm 122:1-5.
Ek was bly toe hulle vir my gesê het: “Kom ons gaan na die huis van die Here toe” (v 1).
Ons het hierdie psalm reeds vroeër vanjaar gelees, en ons weet dat dié psalmdigter nie die kerk of selfs die sinagoge of die tempel bedoel wanneer hy sy psalm op so ’n bruisende noot begin nie. “Huis van die Here” is vir hom Jerusalem, die stad van sy hart. Dit is sy geestelike tuiste en die hoogste baken van sy en sy volksgenote se godsdiensbelewing.
Wat ’n voorreg om so ’n tuiskomplek te kan hê! Dit is sy oase in die lewe se woestyn, die drinkplek van die trop waarvan hy deel is. Hierdie plek maak hom bly. Die tydjie wat hy daar deurbring, voed en versterk sy geloof.
Gelowiges uit die Katolieke tradisie ken dit ook: daardie een stad wat hulle aan God se teenwoordigheid herinner. Die setel waarheen hulle altyd, al is dit net in hul gedagtes, terugkeer. Vir hulle is Rome “die huis van die Here” wat hulle bly maak. Hul Jerusalem.
Elke gelowige het so ’n plek nodig. ’n Oase waarheen hulle telkens terugkeer. Ja, “Jerusalem” word dalk vir elkeen anders gespel, maar die blydskap, die tuiswees, die uitsien na die tuiskoms daar, is universeel. Soos die uitmergelende woestyn ’n onontkombare lewensfeit is.
Nee, daar hoef nie ’n nasionalistiese etiket aan jou Jerusalem te kleef nie (alle Katolieke gelowiges praat immers nie Italiaans nie), maar die plek met die bekende en geliefde geloofsimbole daarbinne behoort nooit iets anders aan jou te doen as om jou bly te maak nie. Om jou te laat voel: Hier is ek tuis. Dit is my Jerusalem.
Dit is hier waar jy boonop leer: My Jerusalem is veel meer as ’n plek; dit is ’n Persoon.
U is my tuiste, Here. U laat my veilig woon. U maak my bly.
Barend Vos