Lees Psalm 122:6-9.
Bid dat Jerusalem vrede mag hê, dat hulle wat hom liefhet, rustig mag woon. Mag daar vrede wees binne jou mure, rus in jou wonings (v 6-7).
Dit is van die grootste belang dat jou Jerusalem vrede moet beleef. Die plek van jou tuiskoms het immers weinig waarde as jou veiligheid dáár nie gewaarborg kan word nie. As die bedreigings van buite en die twiste aan die binnekant nie wil ophou nie.
Die psalmdigter weet dat hy min kan doen om hierdie vrede te bewerk – die oormag en sy gevolglike onmag is te groot. Daarom spreek hy die wens uit dat vrede sal heers. Roep hy almal op wat sy psalm lees om vir vrede te bid. Belowe hy dat hy dit self ook sal doen.
Die mense sal sê om vir vrede te bid, is die minste wat jy vir jou Jerusalem kan doen. Maar bid is nie min nie. Bid, in al sy gestaltes, is die mees betekenisvolle gesprek wat jy ooit sal voer.
Bid is ten slotte ’n gesprek met Hom aan wie jy jou behoeftes, jou onmag, jou desperaatheid en jou afhanklikheid verklaar. Aan wie jy sê: “Here, ék kan nie; U moet. Asseblief.”
Vrede ís ’n saak vir gebed. Daar is mense wat sê vrede is ’n hopelose saak, maar gelowiges weet dat “hopelose sake” in die hande van die Hoopgewer is, Hy wat immers ook die hoorder van alle gebede is. Daarom het ons geen ander uitweg nie: Bid tot die Vredevors. Vra Hom, smeek Hom, om vrede.
Dan, gelowige, dán staan jy van jou knieë af op en gaan predik vrede en gaan leef vrede uit. En, veral, gaan maak jy vrede waar jy kom. Hiervoor het jou Jerusalem jou geroep.
Here, hoor my gebede: Gee ons vrede! En leer ons hoe om in vrede te lewe.
Barend Vos