Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Donkerwerk

Lees Romeine 13:11-12.

Laat ons dan ophou met die werke van die duisternis (v 12).

Dit is een van daardie verse wat die vrese vir die hel op Godskinders loslaat. Of hulle minstens dieprooi laat bloos. Dié saak van donkerwerk, wat dikwels konkelwerk is.

Die blote herinnering daaraan, en veral die vrees dat iemand dalk daarvan mag uitvind, laat jou sommer in bloedsweet uitbars. As jy boonop vrees dat ’n oordeel van Bo op jou wag oor hierdie “werke van die duisternis” waaraan jy so lustig en belustig meegedoen het, dán bewe jy so groot (en so oud) soos jy is.

Soos dit egter met Bybelverse en brokkies daarvan is, vertel dié twee gelese verse ook hier nie die volle verhaal nie. Die saak is selfs ingewikkelder en beslis erger as jou vrees dat jou konkelwerk op die lappe gaan kom.

Paulus skryf in dié hoofstuk oor die las van liefhê (Rom 13:8-10). Oor hoe naasteliefde die “volle uitvoering van die wet” is (v 10). Dat dit “nag” is waar dié wet nie uitgeleef word nie. Dat dit goddank “amper dag” is (v 12).

Natuurlik verwys hy hier na die “tyd van ons finale verlossing” (v 11), wanneer Jesus sy volgelinge kom haal en hulle ook van die owerhede (Rom 13:1-7) verlos sal wees. En dit is met die oog hierop dat hy mooi vra dat die Godskinders moet ophou om in hul donker hoekies weg te kruip. Dat hulle die dagbreek tegemoet moet dans, hand aan hand met hul medemens.

Nee, dit is nie eenvoudig nie. Liefhê is ’n swaar opdrag. Maar dit is juis donkerwerkers se verlossing. Sê Petrus dan nie dat die liefde baie sondes bedek nie? (1 Pet 4:8). En einste Paulus dat die liefde alles bedek nie? (1 Kor 13:7).

Verlos my, Here-van-die-lig, van my liefde vir die donkerte. Maak my oë en my hart gewoond aan u lig.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.