Lees Romeine 13:13-14.
Nee, julle moet lewe soos volgelinge van die Here Jesus Christus (v 14).
Jesusvolgelinge. Dit is wat gelowiges is. Ons is trappers op sy spoor. Wandelaars in sy Woord. Dit beteken uiteraard dat ons weet dat Hy die kompas vashou en die meetsnoere hanteer. Dat Hy die koers bepaal en die rusplekke aandui. Kortom: Hierdie reis is in sy hande en geskied op sy voorwaardes.
Jesusvolgelinge weet ook dat dit nie ’n plesierrit is wat luidkeels lofprysend en al huppelend deur goue strate en pêrelpoorte verloop nie. Dit is, inteendeel, ’n volbloedreis “deur donker dieptes” (Ps 23:4) en “op hoë plekke” (Hab 3:19). Hulle weet ook dat hulle juis daar nie hoef bang te wees nie.
Maar die stilhouplekke is genadig nie oases met Oros en Hallelujaliedjies nie; Jesus is mos hoeka vir “ ’n vraat en ’n wynsuiper” (Matt 11:19) uitgeskel. Hy wat ’n bruidegom se eer deur wyn gered het (Joh 2:1-11). Nee, dit is ’n intense reis dié, maar vol vrolikheid en op ’n roete bevolk deur dankbare mense. Hulle weet wat die eindbestemming is. En al ken of begryp hulle nie al die besonderhede daarvan nie en al maak die pad daarheen hulle soms baie bang, weet hulle wie daar op hulle wag.
Daarom het Paulus se oproep soveel sin, die vermaning aan die reisigers om hulle tydens hierdie reis soos Jesusvolgelinge te gedra. Om nougeset op sy spoor te bly. Om naby genoeg aan Hom te wees sodat hulle sy hande kan sien wanneer Hy beduie – hierlangs! Of: Versigtig! Of: Kom ons rus eers ’n bietjie …
Ja, hulle moet teenaan Hom bly. Byderhand wanneer Hy die padkos begin uitdeel, die ete en drinke, die lewenswater en die genadebrood.
Jesus, U gaan voor – ons volg in u spoor. Laat ons selfs in donker dae altyd volhou sonder kla. U is in beheer …
Barend Vos